rewolwerIn ons toewyding om alles wettig te hou bring ons graag as deel van die tegniese voorbereiding maand ‘n reeks wat in eenvoudige detail aan u verduidelik hoe om ‘n gelisensieerde vuurwapen te bekom.

Moenie ‘n vuurwapen onwettig aanskaf nie, dit is teen Suidlander beleid. Met die reeks sal ons u wys en verduidelik hoe eenvoudig dit is om ‘n wettige vuurwapen vir selfverdediging, jag of sportskiet te bekom. Wyl die proses eenvoudig is, is dit ongelukkig net tydsaam, daarom moet u so vroeg moontlik begin. U kan nie die proses afskop die oomblik wat u besef u benodig ‘n vuurwapen nie.

Die soort vuurwapen wat u kies is u prerogatief en verantwoordelikheid om na te fors. Ons kan dit dalk later ook in verdere artikels uitlig oor watse wapens is goed vir wat. Die artikels sal die proses om die verskillende wapens wettiglik te bekom verduidelik.

STAP 1 – Bevoegdheid

In die Suid-Afrikaanse Wet (Firearms Control Act 60 of 2000) bestaan daar 4 verskillende soorte vuurwapens wat lisensiëring aan betref:

  1. Handwapen
  2. Haelgeweer
  3. Geweer (slotaksie)
  4. Semi-outomatiese geweer

Geen privaat persoon in Suid-Afrika mag ‘n vol outomatiese vuurwapen besit nie. Voordat die aansoeker vir ‘n wapen in daardie kategorieë ‘n lisensie kan bekom moet hy eers deur die staat (SAPD) bevoeg verklaar word. Om vir ‘n bevoegdheidssertifikaat by die SAPD aansoek te doen moet die aansoeker in daardie vier kategorieë en wetlike aspekte deur ‘n SASSETA geakkrediteerde vuurwapen skool met die relevante sertifikate toegeken word.

Die doel van hierdie opleiding is om te bevestig dat die applikant oor die nodige kennis en vermoë besit om ‘n vuurwapen wettig en veilig te kan besit en hanteer. Mens hoef nie vir al vier kategorieë saam aansoek te doen nie maar dit word sterk aanbeveel om sodoende geld te spaar en sodat u dit nie weer sal hoef te doen nie. Beter om dit te hê en dit nie nodig te kry nie as om dit nodig te kry en dit nie te hê nie.

(Lys van geakkrediteerde skole. http://www.natshoot.co.za/page/shooting-range)

Die opleiding wat u vir u bevoegdheid moet doen is.

  1. Bewys van kennis oor die vuurwapen wetgewing (Verpligtend.)
  2. Hantering van ‘n handwapen
  3. Hantering van ‘n haelgeweer
  4. Hantering en gebruik van ‘n slotgeweer
  5. Hantering en gebruik van ‘n semi-outomatiese vuurwapen

Die toetse vir die sertifikate bestaan vir elke een van die afdelings uit ‘n oop boek deel gevolg deur ‘n paar skote op teikens met ‘n wapen van elke soort. Daarna skryf u ‘n redelike eenvoudige toe boek toets. Die proses kan in ‘n dag afgehandel word as u vroeg begin maar ons stel voor om eerder twee dae eenkant te sit vir dit. Die skiet is maklik en op kort afstand. Die wetlike aspekte toets is redelik lywig maar niks moeiliker as ‘n normale skool toets nie. Die totale koste vir die toetse almal saam is ‘n gemiddeld van R2500.00 Dit kan baie verskil tussen skole maar dit is die prys wat kan verwag word.

As die sertifikate ontvang is moet u dadelik ‘n paar gesertifiseerde kopieë daarvan maak en die oorspronklikes veilig bêre. Moet nooit oorspronklikes inhandig vir aansoeke nie.

Laai dan die aansoek vir bevoegdheid vorm hier (http://www.saps.gov.za/services/flash/firearms/forms/english/e517.pdf) af

Vul die vorm volgens u persoonlike omstandighede in. Instruksies vir die invul van die vorm kan hier (http://www.saps.gov.za/services/flash/firearms/forms/english/ei517.pdf) afgelaai word.

Onthou om dan ook die volgende, onder andere soos genoem in die instruksies blad, by u aansoek te plaas.

  1. Twee kleur paspoort foto’s
  2. ‘n Vol stel vingerafdrukke wat u by die polisie kry
  3. Bewys van adres
  4. Gewaarmerkte kopieë van jou ID
  5. Gewaarmerkte kopieë van jou bevoegdheid sertifikate
  6. ‘n ‘Interviewee’ brief van iemand wat bereid is om deur ‘n SAPD lid gekontak te word vir ‘n onderhoud gaande jou bevoegdheid om ‘n vuurwapen te besit
  7. Ook ‘n verwysings brief van ‘n prominente iemand in die gemeenskap wat jou lank ken en wat nie familie is nie.

A.g.v. die vereistes wat gereeld verander is die gehegte dokumente bo genoem net ‘n gids. Dit is belangrik om u plaaslike DFO te vra of u aansoek aan alle nodige vereistes voldoen. Wanneer u aansoek reg is neem dit saam met R70.00 na u plaaslike DFO kantoor toe en handig dit daar in.

Onthou om u kwitansie veilig te bewaar. ‘n Bevoegdheid sertifikaat neem so 6 maande om af te handel afhangende van waar dit ingehandig word. Dit hang ook maar van baie ander veranderlikes af. Die aansoek moet by u naaste DFO aan die adres op u bewys van adres ingehandig word. Die sleutel in die proses is vêrsiendheid en geduld. Omdat dit so lank vat is dit belangrik om so gou moontlik te begin.

Ongelukkig kan ‘n vuurwapen lisensie aansoek nie meer saam met ‘n bevoegdheidsertifikaat ingehandig word nie.

Dit is baie belangrik om nie te wag tot jy wil aansoek doen vir ‘n vuurwapen lisensie om te begin met jou bevoegdheid nie. Begin nou. Sodat dit in plek is as jy ‘n vuurwapen lisensie aansoek wil doen.

In die volgende deel sal ons verduidelik hoe om vir ‘n vuurwapen lisensie aansoek te doen en die verskillende soort lisensies en spesiale statusse soos toegewyde sportskut of jagter en die voordele wat dit inhou.