Die Vader verwag van ons dat ons ‘n nuwe mens sal word na bekering. Natuurlik is ons nooit dadelik volmaak nie, maar die Vader is geduldig met ons, en Hy laat groei toe.

Ons weet mos ‘n volmaakte perskebloeisel word ’n volmaakte vruggie wat uitswel tot ‘n heerlike rooiwang vrug. As die tak afbreek en die lewegewende krag kan nie by die vrug uitkom nie, sal dit verwelk en sleg word. Die tak gaan nie weer vrug kan lewer nie. Die woord ‘nuut’ of ‘nuwe’ word baie in die Bybel gebruik.

Een van die mees lewendegewende verse in die Bybel, staan Joh 13:34,35: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.

Nou val die klem nie meer op rituele en vormgodsdiens nie. Nee! Nou is dit ‘n kosbare lewende verhouding met die Vader – en daaruit spruit die goeie vrugte. (Galasiers 5:22; Kol 2:2-3)

Ons lees in Gal 6:15: “Of ‘n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ‘n nuwe mens is.” Uiterlike tekens beteken niks. My lewe moet die verandering wys. My lewe moet herskep word. Laat die wêreldse waardes sterf.

2 Kor 5:17,18: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens, die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God, Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou.

Nou weet ons dat  die Vader deur Christus die wêreld met Homself versoen het, en die mense hulle oortredinge nie toereken nie (vers 18.) Lees ook Jesaja 53

Stem saam met 2 Kor 13:11 “Vader, broers, wees bly, streef na geestelike volwassenheid, aanvaar vernuwing, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle wees!

Mag ons hierdie nuwe jaar vernuwe word.

Groete, Anen