Aan alle lede, ons het onderneem om hierdie Boere in nood se saak aan u te stel met die hoop dat daar hulp vanaf ons mense sal kom. As hierdie haglike omstandighede van die Boere u hart raak, skakel asseblief die verantwoordelike persoon hieronder en doen u deel om ons naaste te help.

Insake: Droogte in Sutherland Distrik.

Huidiglik is ons gewikkel in seker een van die ergste droogtes in mense heugenis en 2013 was die laaste goeie jaar wat ons distrik beleef het. Daarvandaan is dit afdraend al die pad.

Mense se reserwes is uitgeput, finansieel, geestelik en voerbanke. Veldtoestande is haglik en daar is nie eers meer ruvoer in die veld nie. Dit veroorsaak dat ‘n mens aangewese is op ruvoer en kragvoer wat aangekoop moet word. Ongelukkig is dit wyd rondom ons droog, so voer moet van ver af en teen groot koste aangery word.

Almal veg vir oorlewing en het reeds kuddes verklein, maar die situasie raak nou van so ‘n aard dat daar nie meer fondse is vir voer aankope nie. Rekeninge wat nie betaal kan word nie, diesel wat nie meer gekoop kan word nie, nie eers vir dorp toe ry nie…

Die droogte se effek op dragtigheid en op ‘n lammer oes is ook noemenswaardig.

Weet van ‘n boer wat goed na sy diere kyk, wat nie eers ‘n 25% dragtigheid by sy kudde gescan het nie. Al reёn dit, gaan die uitwerking van die droogte nog lank gevoel word.

Ons is dankbaar vir donateurs wat voer aan ons skenk, sonder dit glo ek sou daar al meer boere handdoek ingegooi het. Die gemiddelde boer ouderdom in ons distrik is rondom 67 en dit maak die uitwerking van die droogte op mens se gemoed nog slegter. Die jong boer wat oorleef kan as die natuur weer normaal raak en reёn, nog weer probeer voorkom in die lewe, maar die ouer manne se moed is min.

Ons is gelukkig om voer skenkings te kry en is baie dankbaar vir elke krummel en pit wat ons ontvang, maar soos Gerhardi Boltman van die Boesmanland nou eendag geskryf het, “Dit smeer ‘n salfie so op die ergste seer”

As gevolg van die voortdurende droogte is almal en als afhanklik van ondergrondse water.

Maar as ‘n mens uit ‘n koppie drink en die koppie word nie aangevul nie sit jy later met ‘n probleem, en dit is waar ons as Landbouers in Sutherland distrik huidiglik is.

Voer kan ‘n mens aanry en aankoop, maar water is ‘n ander saak. So, die wat besproeiing gedoen het om hul lande aan die lewe te hou (wie se boorgate nog nie ingegee het nie), moet ook nou maar staangemaak het, anders kan ons sonder drinkwater vir mens en dier raak.

Ons glo en vertrou dat die Here vir ons uitkoms in die nabye toekoms sal gee.

Groete

Abra van Wyk

Voorsitter Sutherland Landbou Unie

082 448 3364